Moenie die norm probeer volg nie. Voor jy iets doen, koop, of se, dink bietjie verder. Doen jy dit vir jóú? Of doen jy dit omdat jou beste vriendin dit doen? Doen jy dit omdat dit 'n gewilde ding is om te doen?
Ek is ewe skuldig aan die clichés. Ek probeer nie anders wees nie, so ek is nie altyd nie. Party dae is ek net nog 'n gesig in die massa. Ek kan wel met trots se dat ek nie een croptop besit of AllStar tekkies in my kas het, net omdat dit die trend is nie. Dat dit my anders maak, is seker ook nie altyd waar nie. Ek dig in my vrye tyd en ek vergryp myself aan enige musiek wat my íéts kan laat voel. Ek koop elke liewe vorm van tee wat ek vind en ek is heimlik jaloers op mense wat kan skilder. Ek hou nie van klere wat te veel liggaamsdele wys nie, want ek glo dat bietjie misterie nog bietjie mooi bewaar in die lewe. Ek soek eendag vele, klein tattoos, simbole en frases wat vir my iets persoonliks beteken, maar ook waar niemand behalwe ek hulle kan sien nie. Ek droom groot en ek glo nie in beperkinge nie. Wie sal jy wees as jy nie luister na wat die wereld se jy moet wees nie? My hart kan maklik met woorde gewen word en ek geniet soms my eie geselskap meer as wat ek moet. Ek dra 'n Ingrid Jonker bundel oorals saam my rond en die versreëls is so ingekleur met my eie grys potlood dat geen ander mens kop of stert sal kan vind nie. Ek het 'n liefde vir perels en frangipani blomme. Ek hoor dikwels dat my slaapkamer te besig is, maar dis 'n soort visuele tentoonstelling van my gedagtes. Die hout-swaeltjies teen die mure en in die venster stel my begeerte om te vlieg en te reis voor. Die ongelooflikste ding van hierdie voëls is egter dat hulle duisende kilometres reis, en steeds altyd hulle pad huistoe vind. Die seesand en skulpe in die glasbottel op my boekrak verduidelik my onverklaarbare liefde vir die onbetroubare, asemrowende oseaan. Die harte wat in die venster hang bevestig dat, alhoewel ek soms hard voorkom, ek eintlik 'n verskriklike emosionele wese is. Ek glo dat elke hart anders lyk. Elkeen voel dinge anders en elkeen reageer anders. Weereens, iets wat bydra tot die onverstaanbare, beeldskone samestelling van hierdie lewe. Elke hart het iets binne in, ongeag hoe klein, wat die vermoë het om liefgehe te word. Dalk is ek verkeerd, maar dis hoe ek dit sien.
Dis wie ek is.
Hierdie is die eerste offisiële inskrywing van 'n nuwe ruimte - my vrye spasie om te deel. Hoe ek voel, wat ek dink, wat ek skryf en sien. Die kanse is groot dat my gedagtes nie altyd uniek gaan wees nie, maar dis seker die beauty daarvan, is dit nie? Hopelik kan iemand daarbuite hulself vereenseldig met my woorde, dieselfde inspirasie as ek in iets vind.
Ek sluit af met 'n tikkie geliefkoosde inspirasie.
L’Art poetique
Om myself weg te bêre soos ’n geheim
in ’n slaap van lammers en van steggies
Om myself te bêre
in die saluut van ’n groot skip
Weg te bêre
in die geweld van ’n eenvoudige herinnering
in jou verdrinkte hande
om myself weg te bêre in my woord
-Ingrid Jonker
No comments:
Post a Comment