Wednesday, 22 July 2015

Ek vier lewe.

Ek sien gereeld Twitter, Facebook en Instagram posts oor 'Throwback Tuesday/Thursday' of 'FlashbackFriday', alles oor terugkyk en bietjie nostalgies raak. Dalk lag oor die idiotiese opmerking wat jy in 2011 gemaak het. Dalk huil oor 'n dag wat groot seer merk en het die heimwee jou aan die keel beet.

Nou vandag is een van daai dae vir my waar ek graag wil terugkyk. Daar is nie iets soos Weer'nKeerWoensdag nie, maar vandag merk wel 'n groot gebeurtenis in my lewe. Vandag vier ek om asem te haal. 'N paar jaar gelede op hierdie einste dag het ek byna my lewe verloor. Ellende tref jou onverwags. Dit vra nie oor jou naweek planne of wat jy nog more moet doen nie. Siektes kyk nie op jou kalender voor hulle met jou gebeur nie. Een aand gaan slaap jy met 'n hoofpyn en die volgende dag lê jy in 'n hospitaalbed met naalde in jou arms, gaan jy vir brainscans en vergiftig jou eie bloed jou van die binnekant af. Ek het  nooit gedink dit sal met my gebeur nie. In retrospek besef ek dat die situasie geweldig meer ernstig was as wat ek op die tyd besef het. Dit was 'n tydperk van baie huil en baie deurmaak en vandag 3 jaar later, kan ek met eerlikheid sê dat ek meer geseën is as ooit. God se tyd sal altyd die regte tyd wees. 3 jaar terug was my doel op hierdie aarde nog nie voltooi nie, daarom het Hy my 'n tweede kans gegee. 'N kans om oor te begin. Maar die grootste geskenk wat ek geleer het is waardering. Waardering vir my lewe, my gesondheid, my gesin. Die feit dat ek kan loop en praat en sien en hoor. Soveel mense verloor daardie voorregte na meningitis. My herstel was byna mirakelagtig en daar was nie een dokter wat die kans laat verbygaan het sonder om te sê hoe gelukkig ek is om sonder nagevolge te wees nie. Dit laat my net weereens besef - my God is goed, groot en magtiger as wat ons ooit sal kan begryp. 

Vandag merk vir my 'n belangrike dag op my kalender omdat dit my herinner dat ek sterk is, omdat ek die sterkste God binne my het. Ek tel my seëninge, ek sê dankie vir lewe en ek maak 'n belofte om nooit te vergeet hoe gelukkig ek is vir elke dag wat vir my geleen word nie. 


Ek het nog nooit spesifiek oor my ervaring gedig nie, maar ek deel graag een van my ouer gedigte wat ek glo redelik dieselfde konsep van geleende tyd en ons absolute magteloosheid beskryf. 


'hartkanker
alom-onbekend
hoekom?
Want ‘n hart is onstabiel
en klop onverwags vinniger
pyn sonder jou besef
anders as ander organe
geen waarskuwing voor hy faal
hy vra nie toekomsplanne nie
gee selde tweede kanse

       p                                    p
  hy bou                o                      en           o

tot hy eendag net…
stop.'

Monday, 20 July 2015

"Ek dink aan jou as die jakaranda kleur"



"Trane dam in my oë op soos ek by die venster uitstaar en realiteit my vol slae tussen die oë tref. Dis Oktobermaand. Jakaranda-tyd. Die sagte geritsel van die wind buite waai my terug na daardie oggend. . .

   *                                                     *                                                           *

Die groot dag het aangebreek. 'n Naarkol op my maag het, soos 'n voorafgestelde alarm, my herinner aan die datum; die sekonde toe ek my oë oopmaak. Ek het hospitaal toe gery, heelpad in 'n teëstryd met my gedagtes.

Jou gesig het opgehelder soos daardie groot Kersfeesboom in die Waterfront toe ek die vertrek instap en ek het 'n kus as groet op jou voorkop neergele. Ek kon aan die donker kringe onder jou oë sien jy het niks geslaap nie. Ons het die onvermydelike probeer vermy deur ligsinniglik  oor die weer te gesels. Ek kon sien jy was bang. Ek het aan jou hand vasgeklou soos 'n haasbek kleuter aan sy ma s'n op die eerste dag van skool. Te bang om te laat gaan. Jy het weggedraai sodat ek dit nie kon sien, maar ek het geweet dat die trane jou wange gebrand het. Jy het probeer sterk wees voor my. Jy het begin vertel van 'n pakkie met instruksies in jou linkerkantse lessenaarlaai wat ek moet oopmaak as. . . as dit so moet wees.

Dokters het ons gesprek kort-kort onderbreek om in te loer en jou sterkte toe te wens. Die suster het jou laaste drip as voorbereiding, kom opsit en ek wou skree. 'Ek is nog nie reg nie! Gee my eers nog 'n paar ure.' Jy het só hard probeer om my gerus te stel. Jy het my vrees toegeplak met pleister van gelukkige vooruitsigte en toe die emosies al meer sukkel om in woorde vertaal te word, het ons in skreeuende stilte by die venster uitgestaar. Die masjien se geraas het my laaste korrel sand in die uurglas emosieloos aangekondig.

In die wagkamer het die ure hulself as jare vermom en die horlosie het tergend in my ore getik. Ek het elke diamantpatroon op die rusbank se kussing getel. Drie keer. Skemer, my een-tydse gerussteling, het soos 'n onwelkome gas by die hospitaal vensters ingekruip en na wat voel soos 'n leeftyd, het die dokter in die gang af gekom.Sy gesiguitdrukking het my lugtoevoer afgesny en ek het myself doof verwens op daardie oomblik.

"Ek is jammer, ons het. . . "

Ek kon my hartklop in my ore hoor pols en jou laaste woorde het my ingetrek soos 'n sterk, onvegbare seestroom.

"Jy's mooier as 'n jakaranda, my blom. Ek wil dit elke oggend, 'n leeftyd lank vir jou se. As ek egter nie die voorreg het nie, moet jy belowe om aan my te dink elke keer as jy ie jakarandas sien verkleur. Moet jy weet dat ek jou liefhet. Dat jy my gered het van myself, my jakarandakoningin."

Die seestroom het my ingeruk en iewers in jou woorde het ek verdrink."

-anoniem

Sunday, 19 July 2015

Rus in vrede Ingrid.

Vandag merk die 50ste herdenking van een van die mees fenominale vroue wat al ooit geleef het. Vandag, 50 jaar terug, het Ingrid Jonker haarself oorgegee aan die branders op Drieankerbaai. Ek sit soms en wonder wat deur haar gedagtes moes maal, watter seer sy saam met haar moes saamdra. In 'n paralelle wêreld sou ek haar graag wou vat vir tee en vra "Hoekom?". Mense probeer hulle eie stories skryf. Probeer tob en verstaan wat in haar lewe aangegaan het, wat haar gedryf het tot oorgawe, maar die realiteit is, dat slegs sy alleen ooit sal weet wat haar gedagtes was. 'N maklike, eenvoudige, hoofstroom lewe was sy nooit bestem voor nie. Ek dink sy kon vereenseldig met die see omdat sy, nes dit, onvoorspelbaar, soms onverstaanbaar, maar nietemin asemrowend beeldskoon was.

Ek vier vandag jou lewe met baie tee en selfs meer gedigte. Ek probeer dit nie altyd verstaan nie, ek probeer dit eerder waardeer vir wat dit is. 

50 jaar, en jou woorde raak, verander en betower steeds mense. 

Rus in vrede, Ingrid. 

"Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou in Gordonsbaai terug

Ek speel met paddavisse in 'n stroom
en kerf swastikas in 'n rooikransboom

Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aandwind blaf

Ek is die seevoël wat verhongerd daal
en dooi nagte opdis as 'n maal

Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:

My lyk lê uit gespoel op wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was."


Wednesday, 1 July 2015

Om te skryf



"Om te skryf beteken om op soek te gaan. Na nuwe dinge om te sê en nuwe maniere om dit te sê. Na nuwe karakters, na nuwe wêrelde, nuwe woorde en beelde wat daardie wêrelde open."

-Rentia Bartlett-Mohl

Ek is nie 'n skrywer nie. Ek is 'n taalvraat. Ek verorber gedigte en stories en mooi sinne en woorde en gedagtes. Ek lees soms digkuns en ek word groen van jaloesie en wens ek het self oor die vermoë beskik om te skryf wat ek pas gelees het. 

Ek het 'n boekie wat ek ooral saamdra. Hy's oorgetrek met Afrikaanse papier en alhoewel hy bitter onbelangrik lyk van buite, dra dit 'n groot deel van wie ek is tussen die buiteblaaie. Ek het 'n onverklaarbare liefde vir digkuns en ek skryf gedigte wat niemand lees nie, maar soms, as mense by een of ander wonderbaarlike wyse oor my mure klouter vir 'n tydelike oomblik van waansin dan deel ek een van daardie gedigte met hulle. Dit gebeur selde, maar dis moontlik.

My nuwe voorneme, oftewel plan, is om te skryf. Oor alles. Almal. In 'n vaste roetine. Met tee of koffie, soggens of saans, reën of sonskyn. Net skryf. Soveel, gereeld en leesbaar as moontlik. Want as daar een ding is wat ek besef het, is dat mens nie noodwendig hoef goed te wees in iets om passie daarvoor te he nie. En hoe meer passie jy het, hoe meer gaan jy tyd spandeer om dit uit te voer. Eventueel gaan jy briljant wees in dit wat jy eers nie kon vermag nie.

“ 'n Skrywer wat wag vir ideale kondisies om in te  werk, sal doodgaan sonder om 'n woord op papier te laat. ”

So ek wil skryf en stories droom en inkleur en droom en dans en wens met woorde. Hou hierdie spasie dop.