"Trane dam in my oë op soos ek by die venster uitstaar en realiteit my vol slae tussen die oë tref. Dis Oktobermaand. Jakaranda-tyd. Die sagte geritsel van die wind buite waai my terug na daardie oggend. . .
* * *
Die groot dag het aangebreek. 'n Naarkol op my maag het, soos 'n voorafgestelde alarm, my herinner aan die datum; die sekonde toe ek my oë oopmaak. Ek het hospitaal toe gery, heelpad in 'n teëstryd met my gedagtes.
Jou gesig het opgehelder soos daardie groot Kersfeesboom in die Waterfront toe ek die vertrek instap en ek het 'n kus as groet op jou voorkop neergele. Ek kon aan die donker kringe onder jou oë sien jy het niks geslaap nie. Ons het die onvermydelike probeer vermy deur ligsinniglik oor die weer te gesels. Ek kon sien jy was bang. Ek het aan jou hand vasgeklou soos 'n haasbek kleuter aan sy ma s'n op die eerste dag van skool. Te bang om te laat gaan. Jy het weggedraai sodat ek dit nie kon sien, maar ek het geweet dat die trane jou wange gebrand het. Jy het probeer sterk wees voor my. Jy het begin vertel van 'n pakkie met instruksies in jou linkerkantse lessenaarlaai wat ek moet oopmaak as. . . as dit so moet wees.
Dokters het ons gesprek kort-kort onderbreek om in te loer en jou sterkte toe te wens. Die suster het jou laaste drip as voorbereiding, kom opsit en ek wou skree. 'Ek is nog nie reg nie! Gee my eers nog 'n paar ure.' Jy het só hard probeer om my gerus te stel. Jy het my vrees toegeplak met pleister van gelukkige vooruitsigte en toe die emosies al meer sukkel om in woorde vertaal te word, het ons in skreeuende stilte by die venster uitgestaar. Die masjien se geraas het my laaste korrel sand in die uurglas emosieloos aangekondig.
In die wagkamer het die ure hulself as jare vermom en die horlosie het tergend in my ore getik. Ek het elke diamantpatroon op die rusbank se kussing getel. Drie keer. Skemer, my een-tydse gerussteling, het soos 'n onwelkome gas by die hospitaal vensters ingekruip en na wat voel soos 'n leeftyd, het die dokter in die gang af gekom.Sy gesiguitdrukking het my lugtoevoer afgesny en ek het myself doof verwens op daardie oomblik.
"Ek is jammer, ons het. . . "
Ek kon my hartklop in my ore hoor pols en jou laaste woorde het my ingetrek soos 'n sterk, onvegbare seestroom.
"Jy's mooier as 'n jakaranda, my blom. Ek wil dit elke oggend, 'n leeftyd lank vir jou se. As ek egter nie die voorreg het nie, moet jy belowe om aan my te dink elke keer as jy ie jakarandas sien verkleur. Moet jy weet dat ek jou liefhet. Dat jy my gered het van myself, my jakarandakoningin."
Die seestroom het my ingeruk en iewers in jou woorde het ek verdrink."
-anoniem
No comments:
Post a Comment