Wednesday, 22 July 2015

Ek vier lewe.

Ek sien gereeld Twitter, Facebook en Instagram posts oor 'Throwback Tuesday/Thursday' of 'FlashbackFriday', alles oor terugkyk en bietjie nostalgies raak. Dalk lag oor die idiotiese opmerking wat jy in 2011 gemaak het. Dalk huil oor 'n dag wat groot seer merk en het die heimwee jou aan die keel beet.

Nou vandag is een van daai dae vir my waar ek graag wil terugkyk. Daar is nie iets soos Weer'nKeerWoensdag nie, maar vandag merk wel 'n groot gebeurtenis in my lewe. Vandag vier ek om asem te haal. 'N paar jaar gelede op hierdie einste dag het ek byna my lewe verloor. Ellende tref jou onverwags. Dit vra nie oor jou naweek planne of wat jy nog more moet doen nie. Siektes kyk nie op jou kalender voor hulle met jou gebeur nie. Een aand gaan slaap jy met 'n hoofpyn en die volgende dag lê jy in 'n hospitaalbed met naalde in jou arms, gaan jy vir brainscans en vergiftig jou eie bloed jou van die binnekant af. Ek het  nooit gedink dit sal met my gebeur nie. In retrospek besef ek dat die situasie geweldig meer ernstig was as wat ek op die tyd besef het. Dit was 'n tydperk van baie huil en baie deurmaak en vandag 3 jaar later, kan ek met eerlikheid sê dat ek meer geseën is as ooit. God se tyd sal altyd die regte tyd wees. 3 jaar terug was my doel op hierdie aarde nog nie voltooi nie, daarom het Hy my 'n tweede kans gegee. 'N kans om oor te begin. Maar die grootste geskenk wat ek geleer het is waardering. Waardering vir my lewe, my gesondheid, my gesin. Die feit dat ek kan loop en praat en sien en hoor. Soveel mense verloor daardie voorregte na meningitis. My herstel was byna mirakelagtig en daar was nie een dokter wat die kans laat verbygaan het sonder om te sê hoe gelukkig ek is om sonder nagevolge te wees nie. Dit laat my net weereens besef - my God is goed, groot en magtiger as wat ons ooit sal kan begryp. 

Vandag merk vir my 'n belangrike dag op my kalender omdat dit my herinner dat ek sterk is, omdat ek die sterkste God binne my het. Ek tel my seëninge, ek sê dankie vir lewe en ek maak 'n belofte om nooit te vergeet hoe gelukkig ek is vir elke dag wat vir my geleen word nie. 


Ek het nog nooit spesifiek oor my ervaring gedig nie, maar ek deel graag een van my ouer gedigte wat ek glo redelik dieselfde konsep van geleende tyd en ons absolute magteloosheid beskryf. 


'hartkanker
alom-onbekend
hoekom?
Want ‘n hart is onstabiel
en klop onverwags vinniger
pyn sonder jou besef
anders as ander organe
geen waarskuwing voor hy faal
hy vra nie toekomsplanne nie
gee selde tweede kanse

       p                                    p
  hy bou                o                      en           o

tot hy eendag net…
stop.'

Monday, 20 July 2015

"Ek dink aan jou as die jakaranda kleur"



"Trane dam in my oë op soos ek by die venster uitstaar en realiteit my vol slae tussen die oë tref. Dis Oktobermaand. Jakaranda-tyd. Die sagte geritsel van die wind buite waai my terug na daardie oggend. . .

   *                                                     *                                                           *

Die groot dag het aangebreek. 'n Naarkol op my maag het, soos 'n voorafgestelde alarm, my herinner aan die datum; die sekonde toe ek my oë oopmaak. Ek het hospitaal toe gery, heelpad in 'n teëstryd met my gedagtes.

Jou gesig het opgehelder soos daardie groot Kersfeesboom in die Waterfront toe ek die vertrek instap en ek het 'n kus as groet op jou voorkop neergele. Ek kon aan die donker kringe onder jou oë sien jy het niks geslaap nie. Ons het die onvermydelike probeer vermy deur ligsinniglik  oor die weer te gesels. Ek kon sien jy was bang. Ek het aan jou hand vasgeklou soos 'n haasbek kleuter aan sy ma s'n op die eerste dag van skool. Te bang om te laat gaan. Jy het weggedraai sodat ek dit nie kon sien, maar ek het geweet dat die trane jou wange gebrand het. Jy het probeer sterk wees voor my. Jy het begin vertel van 'n pakkie met instruksies in jou linkerkantse lessenaarlaai wat ek moet oopmaak as. . . as dit so moet wees.

Dokters het ons gesprek kort-kort onderbreek om in te loer en jou sterkte toe te wens. Die suster het jou laaste drip as voorbereiding, kom opsit en ek wou skree. 'Ek is nog nie reg nie! Gee my eers nog 'n paar ure.' Jy het só hard probeer om my gerus te stel. Jy het my vrees toegeplak met pleister van gelukkige vooruitsigte en toe die emosies al meer sukkel om in woorde vertaal te word, het ons in skreeuende stilte by die venster uitgestaar. Die masjien se geraas het my laaste korrel sand in die uurglas emosieloos aangekondig.

In die wagkamer het die ure hulself as jare vermom en die horlosie het tergend in my ore getik. Ek het elke diamantpatroon op die rusbank se kussing getel. Drie keer. Skemer, my een-tydse gerussteling, het soos 'n onwelkome gas by die hospitaal vensters ingekruip en na wat voel soos 'n leeftyd, het die dokter in die gang af gekom.Sy gesiguitdrukking het my lugtoevoer afgesny en ek het myself doof verwens op daardie oomblik.

"Ek is jammer, ons het. . . "

Ek kon my hartklop in my ore hoor pols en jou laaste woorde het my ingetrek soos 'n sterk, onvegbare seestroom.

"Jy's mooier as 'n jakaranda, my blom. Ek wil dit elke oggend, 'n leeftyd lank vir jou se. As ek egter nie die voorreg het nie, moet jy belowe om aan my te dink elke keer as jy ie jakarandas sien verkleur. Moet jy weet dat ek jou liefhet. Dat jy my gered het van myself, my jakarandakoningin."

Die seestroom het my ingeruk en iewers in jou woorde het ek verdrink."

-anoniem

Sunday, 19 July 2015

Rus in vrede Ingrid.

Vandag merk die 50ste herdenking van een van die mees fenominale vroue wat al ooit geleef het. Vandag, 50 jaar terug, het Ingrid Jonker haarself oorgegee aan die branders op Drieankerbaai. Ek sit soms en wonder wat deur haar gedagtes moes maal, watter seer sy saam met haar moes saamdra. In 'n paralelle wêreld sou ek haar graag wou vat vir tee en vra "Hoekom?". Mense probeer hulle eie stories skryf. Probeer tob en verstaan wat in haar lewe aangegaan het, wat haar gedryf het tot oorgawe, maar die realiteit is, dat slegs sy alleen ooit sal weet wat haar gedagtes was. 'N maklike, eenvoudige, hoofstroom lewe was sy nooit bestem voor nie. Ek dink sy kon vereenseldig met die see omdat sy, nes dit, onvoorspelbaar, soms onverstaanbaar, maar nietemin asemrowend beeldskoon was.

Ek vier vandag jou lewe met baie tee en selfs meer gedigte. Ek probeer dit nie altyd verstaan nie, ek probeer dit eerder waardeer vir wat dit is. 

50 jaar, en jou woorde raak, verander en betower steeds mense. 

Rus in vrede, Ingrid. 

"Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou in Gordonsbaai terug

Ek speel met paddavisse in 'n stroom
en kerf swastikas in 'n rooikransboom

Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aandwind blaf

Ek is die seevoël wat verhongerd daal
en dooi nagte opdis as 'n maal

Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:

My lyk lê uit gespoel op wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was."


Wednesday, 1 July 2015

Om te skryf



"Om te skryf beteken om op soek te gaan. Na nuwe dinge om te sê en nuwe maniere om dit te sê. Na nuwe karakters, na nuwe wêrelde, nuwe woorde en beelde wat daardie wêrelde open."

-Rentia Bartlett-Mohl

Ek is nie 'n skrywer nie. Ek is 'n taalvraat. Ek verorber gedigte en stories en mooi sinne en woorde en gedagtes. Ek lees soms digkuns en ek word groen van jaloesie en wens ek het self oor die vermoë beskik om te skryf wat ek pas gelees het. 

Ek het 'n boekie wat ek ooral saamdra. Hy's oorgetrek met Afrikaanse papier en alhoewel hy bitter onbelangrik lyk van buite, dra dit 'n groot deel van wie ek is tussen die buiteblaaie. Ek het 'n onverklaarbare liefde vir digkuns en ek skryf gedigte wat niemand lees nie, maar soms, as mense by een of ander wonderbaarlike wyse oor my mure klouter vir 'n tydelike oomblik van waansin dan deel ek een van daardie gedigte met hulle. Dit gebeur selde, maar dis moontlik.

My nuwe voorneme, oftewel plan, is om te skryf. Oor alles. Almal. In 'n vaste roetine. Met tee of koffie, soggens of saans, reën of sonskyn. Net skryf. Soveel, gereeld en leesbaar as moontlik. Want as daar een ding is wat ek besef het, is dat mens nie noodwendig hoef goed te wees in iets om passie daarvoor te he nie. En hoe meer passie jy het, hoe meer gaan jy tyd spandeer om dit uit te voer. Eventueel gaan jy briljant wees in dit wat jy eers nie kon vermag nie.

“ 'n Skrywer wat wag vir ideale kondisies om in te  werk, sal doodgaan sonder om 'n woord op papier te laat. ”

So ek wil skryf en stories droom en inkleur en droom en dans en wens met woorde. Hou hierdie spasie dop.




Thursday, 25 June 2015

My gunsteling tyd van die dag.

"Daardie oomblik waar ek my oë oop maak & sien hoe sag jy nog slaap, is my gunsteling tyd van die dag. Die son wat oor die horison op kom kan nie eers vergelyk word met die meesterstuk wat langs my wakker word nie. 

Jy met die basbruin oë & donker hare. Jy met die songesoende vel & sagte lippe. Jy, die man met 'n hart van goud. Jy is my gunsteling tyd van die dag. 

My gunsteling tyd van die dag is wanneer jy jou kamera uithaal & oomblikke vas vang, waarna ons kan terug kyk eendag as ons groot is. Terwyl ek op die kombuistafel sit & appel stukkies op sny, sien ek net die lig flits van jou speelding. Op die onverwagste oomblikke neem jy my af. My hare is nog deurmekaar & gisteraand se grimering is oor my wang gesmeer. Jy sê vir my dat ek, jou kunswerk, jou model, perfek is in my eie manier. Jy sê dat die waarde van geld nie eers my skoonheid kan omkoop nie. 

My gunsteling tyd van die dag is wanneer ek jou soek in ons tuin. Ek kry jou op jou gunsteling wegkruipplek, onder die groot akkerboom, met 'n koppie rooibostee in jou hand & Ingrid Jonker as jou geselskap. Ek lag vir jou, my droom man, & jy kyk op na my. Jy herhaal haar woorde, met passie in jou oë, "Jou lag is 'n oopgebreekte granaat. Lag weer." Jy soen my met gedigte, droom man. 

My gunsteling tyd van die dag is wanneer jy vir my 'n glas rooiwyn skink, wanneer jou hand myne vat & wanneer jou lippe saggies oor myne streel. My gunsteling tyd van die dag is wanneer jy vir my sê dat jy my lief het. 

My gunsteling tyd van die dag is wanneer ons in die donkerte lê & ek die sterrekonstelasies in jou oë soek. My gunsteling tyd van die dag is daardie oomblik wat vir ewig voel, daardie oomblik waar jou hartklop jaag, maar jy met rustigheid na my kyk. Jy fluister Die Enkeling se woorde, "Ons baljaar op Pluto & maak liefde op die maan, maar dit is eers op Aarde, waar jy my liefling, verstaan." 

My gunsteling tyd van die dag is wanneer ek besig is om aan die slaap te raak, langsaan jou sy. Ek voel veilig & tuis by jou. 

Maar, my heel gunsteling tyd van die dag, net voordat ek afskakel, is daardie minuut waar ek die Here dank vir hierdie droom man, Sy mooiste Engel, wat Hy vir my nog elke dag spaar."

-Charlotte

Wednesday, 24 June 2015

Ek het.

Ek het 'n intense en onverklaarbare begeerte om iets na te laat.

Ek skryf gedigte en stories wat niemand ooit lees nie, maar ek droom dat iemand eendag sal. My grootste fout is egter dat ek dinge met groot entoesiasme aanpak en dat daardie vuur binne my mettertyd gereduseer word tot niks meer as 'n hopie as wat gou vergeet word.

Want, sien. My wereld is wit of swart. Ek slaap óf my dae om, of vir weke lank niks. Ek het lief met my hele hart, óf haat met alles binne my. As ek gelukkig is, is ek eufories en as ek hartseer is, is ek ontroosbaar. Dis beide 'n seëning en 'n straf om alles so intens te voel. Ek weet nie wat grys areas is nie.

So, as deel van 'n nuwe self-ontdekkingsreis, maak ek 'n voorneme om elke dag iets van myself te deel op hierdie platform. Nie soseer vir dié wat dit lees nie, maar meer vir myself om dit erens swart op wit te laat.

Ek het besef dat die moeilikste wese op aarde om te verstaan, onbetwyfeld jouself is. Ek dink nie ek sal myself ooit begryp nie. Ek is 'n lopende kontras. Een dag wil ek reis. Die wereld sien. Alles alleen aanpak en onafhanklik wees. 'n Suksesvolle loopbaan he en op niks anders fokus as myself nie.

En dan kom die dae wat 'n sagte stem in my kop my probeer herinner dat die lewe oor meer gaan as dit. Wat beteken jou geld en jou sukses en jou status as jy niks anders het as dit nie? Niemand le op sterwe en smag na 'n laaste dag op kantoor of 'n uur in verkeer nie. Dis daardie dae wat my wese smag na verlief word, trou en 'n huis vol kinders he. Ek wil gedigte skryf en by die see bly en nie die lewe kompliseer met onnodige luukses nie, ek wil slegs gemaklik kan voortbestaan.

En die grootste probleem is, ek kan nie voorspel watter kant gaan wen nie.

Ek wil elke sekonde van hierdie lewe ten volle benut en nie eendag hoef te groet met rakke vol boeke wat ek nog wou lees of vriende wat ek nog wou opvang mee of dinge wat ek nog wou doen nie. Ek wil se - ek het.

Ek het so lanklaas aan my gedagtes uitlating dat ek besef hierdie plasing is heeltemal verstrooid, maar dít is ook deel van wie ek is. My gedagtes hol soms té vinnig vir my om by te hou.

Ek wil skryf en deel en praat en dink elke sekond van elke dag, want op die einde van die dag wil ek eenvoudig kan se - ek het.


En die pad na om te kan se "Ek het" begin vandag.




Al Sou

Al sou
Ek sal jou liefhê my heel lewe lank

selfs al sou die t’nouroevygie
in droë jare skaarser rank

al sou die sleepmis vroeg insleep
van die see af en die wilde-anys
toe-oog bly en die son vergeefs
ander wang vir die wêreld wys

al sou die ooswind knaend waai
en om ons net blylêgoed bly lê
net knapveld waar daar opslag was
en ons vergeefs grawe aan ‘n gorê

al sou ons sleepvoet en doekvoet loop
hande krom soos haakdoringbos
al het die wind die gousblom gestroop

al het die jare ons uitoorlê
sal ek jou heel my lewe lank bly liefhê


-George Weideman


Saturday, 16 May 2015

Die Ingrid Jonker prys.

Ek moet bieg, ek skeep hierdie blad, wat in nog in sy baba-stadium is, vreeslik af. As hierdie wel 'n baba was, het die welsyn die week al my drumpel oortrap.

My weke is die afgelope ruk soos trappe van vergelyking as dit by dolheid kom, so ek hou hierdie skrywe kort en kragtig.

"Die Ingrid Jonkerprys is 'n literêre toekenning vir die beste debuutbundel in Afrikaans of Engelse poësie. Dit prys is ingestel ter ere van Ingrid Jonker na haar dood in 1965.

Die prysgeld is R1 000 en 'n medalje. Dit word alternatiewelik aan 'n Afrikaanse of Engelse digter toegeken wat sy eerste digbundel gedurende die laaste twee jaar gepubliseer het."

Beslis 'n lewensdoelwit.

Daar kom dikwels aande waar ek te veel kaffeïne in my bloedstroom inspuit en my bonatuurlike fassinasie met digkuns in algeheel, my kamermure by die nate wil laat bars.

Vanaand is een van hulle.

As jy nog nie het nie, kry jou hande op die Nederlandse film "Black Butterflies". Dit sal jou laat lag, huil, wonder - iéts voel. 'n Skaarse gebeurtenis in die moderne filmbedryf. Jy mag dalk net iets meer leer van een van die inspirendste vrouens wat hierdie stukkie grond wat ek huis noem, al ooit kon oplewer.

Ek skryf vanaand weer potlode stomp en Versamelde Werke se woordinhoud het seker al verdubbel met my notas en verstaan-oomblikke daarin geskrabbel.

Ek deel 'n persoonlike gedig. Een van my eie gunstelinge (so egosentries soos dit mag klink).

ek droom soms, ek verdrink
blou branders, sout seewater
ek.

kalm, grasieus
herroep ek duisende gedagtes
elke oomblik helder ingekleur

was ek ‘n Ingrid,
sou ek daaroor dig
my emosies wou agterlaat
my brief in ‘n bottel

ek droom soms ek verdrink
want een ding het sy verstaan
tussen die sagte arms van die branders
sal jy op die mooiste manier huistoe gaan


Ek wéns vir almal 'n ingrid in hulle lewens. Iemand wie se woorde hulle verstaan en wat hulle inspireer. Iets wat hulle roer. Enige iets wat jóú laat voel. Inspirasie kan gevind word in die onverwagste van dinge, as mens net mooi genoeg daarna kyk.







Saturday, 9 May 2015

Afrikaans is 90!

Veels geluk met jou 90ste Afrikaans! Ek is wel bietjie laat, maar agteros kom ook in die kraal.






Hoe lief het jy jóú taal?

Wat beteken Afrikaans vir jou? 

Daar is vir my niks mooier as my taal nie. Waar kan jy liefhê en beskryf en voel soos in Afrikaans? Ons het die mooiste Nederlandse afkoms wat vir my wys hoe 'n Afrikaner iets kan gebruik en werklik persoonlik en sy eie kan maak. 

Ek ken die mooiste digkuns, lirieke en selfs deesdae films - alles in Afrikaans. Dink bietjie terug. Breyten Breytenbach, Uys Krige, Elisabeth Eybers. Mense, digters, skrywers van wêreldgehalte.

Die hartseer realiteit is egter dat ons taal bedreig is. Alhoewel Afrikaans die derde algemeenste moedertaal, naas Xhosa en Zulu, tans in Suid-Afrika is, is die geveg om dit in skole en op universiteite te hou reeds vurig aan die gang. Al meer moedertaal sprekers verlaat ons land as gevolg van politieke en ander omstandighede en min besef die nagevolge vir ons taal. Wie verstaan elkgeval Afrikaans in Australië?

As een van die nuwer generasie lede probeer ek soveel moontlik veg vir my taal. Selfs al is dit net deur dit so suiwer as moontlik te probeer praat soveel as wat ek kan. Dit stuit my bietjie teen die bors as ek tieners ontmoet wat nie die betekenis van 'n kus of selfs net 'n paar algemene idiome ken nie.

Dink bietjie na, wat maak jou lief vir Afrikaans? Raak nostalgies oor al die dinge wat jou, as Afrikaner, trots maak. Onthou van braai en melktert en koeksister en Ouma beskuit en Hertzoggies. Alles wat uniek aan jou volk, jou taal en jou geskiedenis is.

Vier Afrikaans!

Praat dit, skryf dt, liefkoos dit. Dit is enig in sy soort.

Ek deel graag driegedeeltes. Die eerste een 'n aanhaling deur Steve Hofmeyr oor plaasmoorde, iets wat indirek ons taal bedreig, geskiedenis en sommer bietjie erfenis.

" 'DIT IS NIE OKEI NIE.'
Want elke keer as daar 'n Boer sterf verloor ek en jy iets.
Verloor jy 'n stukkie taal, 'n stukkie kultuur, 'n stukkie identiteit en godsdiens.
Verloor ons die voorreg van 'n Afrikaanse grappie om 'n braai.
Verloor ons voorreg van nagereg. Van Hertzogkoekies en Jan Ellis poeding.
Verloor ons die voorreg van Psalm 23, in Afrikaans.
Verloor ons 'n stukkie Sheila Cussons, 'n stukkie Elizabeth Eybers, Eugene Marais en AG Visser.
Verloor ons NP van Wyk Louw en Brolloks en Bittergal/
Verloor ons die voorreg van CJ Langenhoven en om op 'n rots te staan en skree: ek sal antwoord op jou roepstem en sal offer wat jy vra.
Verloor ons die FAK, verloor ons Suikerbossie. Verloor ons Hasie Hoekom Is Jou Stert So Kort.
Verloor ons die voorreg van Voortrekker erfenis al langs die N1 af. Totsiens Louis Trichardt, Totsiens Pietermaritzburg, Totsiens Naboomspruit, Totsiens Nylstroom, Totsiens Warmbad en Totsiens Pretoria. Wie de donner was Tswane in elk geval?
Kom ek vertel jou wie was Pretorius, Potgieter, Maritz, Generaals Botha, Delarey, Hertzog en Smuts.
Elke keer as daar 'n Boer sterf verloor ons die voorreg van die Groen en Goud, verloor ons die Springbok, veroor ons vir Danie Craven en Frik du Preez. 
Verloor ons 'n bladsy in die geskiedenis sillabes van ons eie land.
Verloor ons die voorreg van EEN klaskamer in Afrikaans.
Verloor ons die voorreg van EEN enkele Afrikaanse universiteit.
Dit is nie okei nie.
Se ek dit als om jou swaar te maak?
Nee.
Ek se dit om jou lig te maak. Jou te bevry. Kyk na jou arms. HEt jy vergeet watter bloed vloei in jou are? Jy kom van voorouers uit Europa wat geweier het om onderdanig te wees aan enigeiemand. Toe pak hulle hul tasse. Waarnatoe? New York toe? Ha! Na die gatkant van Afrika toe. Hier moes hulle weeer onderdanig wees. Twee keer. Waarnatoe trek hulle? Terug New York toe? Ha! Binneland toe op 'n geelhout kakebeenwa met tien osse en 'n touleier. In elke oorlog waarin jou voorouers betrokke was, was hulle die minderheid. Dan wen hulle! Dan wen hulle! En wanneer hulle verloor gaan hulle op hulle knieë en se Dankie God, ons sal dit oorleef.
Ek se jou vandag.
Ons sal dit oorleef."

-Steve Hofmeyr

Die tweede aanhaling 'n persoonlike gunsteling uit die pen van Elisabeth Eybers

"Die geskenk 
Jy het my meer gegee as die blou van jou oë:
ook die meerblou lug tussen wit wolke-oewers het
myne geword,
die dromerige rookblou van ver rante,
die pêrelblou van die skemering
en die roekelose blou van ’n blom tussen groen gras.
Jy het my meer gegee as die beroering van jou hande:
die lug het teerder om my gevloei,
die aand het my inniger as voorheen ontvang in sy
koele omhelsing
en die wind het gaan lê op my bors.
Jy het my meer gegee as die besorgdheid van jou stem:
die bome het hul takke behoedsaam geneig
en die sterre het hulle rondom geskaar soos wagte.
Jy het my meer gegee as die drang van jou bloed:
die warm krag van die aarde het deur my gestroom,
die sap wat lentebotsels uitstoot het gepols in my are
en die Ewige Lewe het ontkiem in my skoot.
Jy het my meer gegee as die droom van een nag:
al die verlore drome van my kindertyd het teruggekeer
en in my oë het jy sterre aangesteek,
te helder om te vlug vir die daglig.
Alles wat ek verloor het en veel wat nog ongevonde
was, het jy my gegee.
Jy het my meer gegee as jou liefde:
die guns en die liefde van God."

En sommer 'n oorspronklike een ter viering van digkuns, in my taal.

ek gooi klein stukkies jou
by my venster uit,
as ek langpad ry

in die boland se onbekende wingerde
in lambertsbaai se branders
ooral waar jou woorde 
my papierhart inkleur

net soms raak ek stil
en twyfel oor verlore tyd
totdat die besef my tref:
die een wat iets verloor is jy,
daarom laat ek jou liefs agterbly.




Gelukkigheid.


Het jy al ooit sit en dink wat maak jou gelukkig? Régtig kinderlik gelukkig?

Deur die loop van 'n normale dag is dit belangrik om uit te kyk na klein dingetjies wat jou laat glimlag. Dit is ook, makliker gesê as gedaan. Mens is altyd so haastig oppad iewers heen, oppad na die volgende ding wat gedoen moet word, dat daar nie tyd is nie. Ek het in 2014 die #100happydays challenge gedoen en, alhoewel dit vir my aanvanklik baie nutteloos voorgekom het, het dit 'n merkwaardige verskil op my daaglikse uitkyk gemaak. Om elke dag te soek na íéts, ongeag hoe klein, wat my gelukkig maak was 'n uitdaging. Wat ek egter nie besef het, was dat dit na 100 dae 'n gewoonte geraak het. 

Al draf ek nog soggens half aangetrek kar toe, let ek die klein persblommetjies langs die stoep op wat deur die nag stil-stil hulle verskyning gemaak het. Ek gee my kat getrou elke aand haar beloofde krapsessie al laat sy my neus vreeslik jik, omdat sy nooit nee sê as ek bietjie liefde nodig het nie. Ek staan bietjie vroeër op, sodat ek my heuningtee meer kan geniet en steeds betyds klaar kan wees. Ek lê bietjie langer in die bad, omdat ek besef ek het soms bietjie nodig om te ontspan en ek absoluut verregande is oor borrels en kerse. Ek probeer meer tyd met my hond spandeer omdat géén mens ooit so bly is om my te sien soos hy nie. 


Daag jouself uit om die klein dingetjies te soek. 'N Plattelandse winkel wat se dekor jou asem wegslaan. 'N lekker Karoo-koffie as jy 5uur opgestaan het. Of sommer net die glimlag van 'n vreemdeling. 

Gelukkigheid is nie 'n plek nie. Jy kan nie arriveer of weggaan daarvandaan nie. Dis 'n manier van reis. Dis kliphard Riana Nel sing op die langpad en pannekoek bak as dit reën. Dis in die spieël kyk en hou van wat jy sien. Dis innerlike tevredenheid. 

Kies om gelukkig te wees. 

Tuesday, 5 May 2015

Wie is jy?

Ek dink die mensdom se grootste struikelblok is hulle strewe na uniekheid. Dis 'n konstante geveg om meer uit te staan as die ou langs jou. Ek bedoel egter nie daarmee dat mense nié uniek is nie, maar ek glo wel dat die mense wat dit  regkry om onthou te word vir wie hulle is/was, die mense is wat nie té hard probeer het nie. Omhels jou eie menswees ten volle - dit maak die lewe meer leefbaar.

Moenie die norm probeer volg nie. Voor jy iets doen, koop, of se, dink bietjie verder. Doen jy dit vir jóú? Of doen jy dit omdat jou beste vriendin dit doen? Doen jy dit omdat dit 'n gewilde ding is om te doen?

Ek is ewe skuldig aan die clichés. Ek probeer nie anders wees nie, so ek is nie altyd nie. Party dae is ek net nog 'n gesig in die massa. Ek kan wel met trots se dat ek nie een croptop besit of AllStar tekkies in my kas het, net omdat dit die trend is nie. Dat dit my anders maak, is seker ook nie altyd waar nie. Ek dig in my vrye tyd en ek vergryp myself aan enige musiek wat my íéts kan laat voel. Ek koop elke liewe vorm van tee wat ek vind en ek is heimlik jaloers op mense wat kan skilder. Ek hou nie van klere wat te veel liggaamsdele wys nie, want ek glo dat bietjie misterie nog bietjie mooi bewaar in die lewe. Ek soek eendag vele, klein tattoos, simbole en frases wat vir my iets persoonliks beteken, maar ook waar niemand behalwe ek hulle kan sien nie. Ek droom groot en ek glo nie in beperkinge nie. Wie sal jy wees as jy nie luister na wat die wereld se jy moet wees nie? My hart kan maklik met woorde gewen word en ek geniet soms my eie geselskap meer as wat ek moet. Ek dra 'n Ingrid Jonker bundel oorals saam my rond en die versreëls is so ingekleur met my eie grys potlood dat geen ander mens kop of stert sal kan vind nie. Ek het 'n liefde vir perels en frangipani blomme. Ek hoor dikwels dat my slaapkamer te besig is, maar dis 'n soort visuele tentoonstelling van my gedagtes. Die hout-swaeltjies teen die mure en in die venster stel my begeerte om te vlieg en te reis voor. Die ongelooflikste ding van hierdie voëls is egter dat hulle duisende kilometres reis, en steeds altyd hulle pad huistoe vind. Die seesand en skulpe in die glasbottel op my boekrak verduidelik my onverklaarbare liefde vir die onbetroubare, asemrowende oseaan. Die harte wat in die venster hang bevestig dat, alhoewel ek soms hard voorkom, ek eintlik 'n verskriklike emosionele wese is. Ek glo dat elke hart anders lyk. Elkeen voel dinge anders en elkeen reageer anders. Weereens, iets wat bydra tot die onverstaanbare, beeldskone samestelling van hierdie lewe. Elke hart het iets binne in, ongeag hoe klein, wat die vermoë het om liefgehe te word. Dalk is ek verkeerd, maar dis hoe ek dit sien.

Dis wie ek is.

Hierdie is die eerste offisiële inskrywing van 'n nuwe ruimte - my vrye spasie om te deel. Hoe ek voel, wat ek dink, wat ek skryf en sien. Die kanse is groot dat my gedagtes nie altyd uniek gaan wees nie, maar dis seker die beauty daarvan, is dit nie? Hopelik kan iemand daarbuite hulself vereenseldig met my woorde, dieselfde inspirasie as ek in iets vind.

Ek sluit af met 'n tikkie geliefkoosde inspirasie.


L’Art poetique


Om myself weg te bêre soos ’n geheim
in ’n slaap van lammers en van steggies
Om myself te bêre
in die saluut van ’n groot skip
Weg te bêre
in die geweld van ’n eenvoudige herinnering
in jou verdrinkte hande
om myself weg te bêre in my woord

-Ingrid Jonker